INHOUD VAN HIERDIE BLADSY
OORSIG VAN DIE WERKE SOOS NEERGESKRYF DEUR JAKOB LORBER (Neergeskryf deur Jakob Lorber soos ontvang deur die innerlike woord gedurende die tydperk 1840 - 1864)
DIE JEUG VAN JESUSbeskikbaar in Engels as 'The Childhood of Jesus'. Hierdie is 'n heropenbaring van die sg. Jakobus Evangelie (wat geskryf is deur Jakobus, Jesus se stiefbroer en een van die apostels) wat mettertyd verlore gegaan het en waarvan net fragmente in verskeie museums oorgebly het. Vergelykende studies het verbasende ooreenkomste met die behoue skriffragmente getoon. Dit word ook as onmoontlik beskou dat Lorber toegang tot al hierdie skrifstukke kon gehad het. Hierdie is een van die konkrete bewyse van 'n hoër goddelike betrokkenheid tydens die skryf van die Lorbergeskrifte DIE DRIE DAE IN DIE TEMPEL Die Afrikaanse weergawe van die' boekie kan op hierdie webblad gelees word. Hier word vertel van Jesus se poging as twaalfjarige kind, om die fariseërs, priesters en skrifgeleerdes te oortuig daarvan dat Hy die Messias is wat deur al die profete aangekondig was en waarvan ook Johannes die doper getuig het. Maar dit word ook duidelik dat die tempel reeds te ver gevorder was met sy selfopgestelde doktrines ter bevordering van hulle eie selfsugtige oogmerke en dat hulle nie vir Jesus geglo het nie. DIE GROOT JOHANNES EVANGELIE Band 1 en 2 is reeds na Afrikaans vertaal en is op hierdie webblad beskikbaar. Die volle weergawe is ook beskikbaar in Nederlands. Hierdie werk is die nakoming van die belofte wat Jesus gemaak het in Johannes 14,26; 16,12-13; 16,25; 20,30 en 21,25. Hierin word 'n uitgebreide dag vir dag beskrywing gegee van alles wat Jesus gedoen en geleer het tydens sy lewe op aarde. Van die bande is ook op die webblad van Franky Corne in Engels beskikbaar. Franky het met sy vertaling besonder goeie werk gelewer.
DIE HUISHOUDING VAN GOD (BAND 1 - 3) Band 1 tot 3 is reeds volledig na Afrikaans vertaal. Dit is die heel eerste woorde wat Lorber ontvang het, en verduidelik die ontstaan van die skepping, die val van Luzifer en sy aanhang van engele, die ontstaan van die materiële skepping en Adam en Eva, die sondeval, die ontwikkeling van die mensdom uit Adam en Eva, en die verdere geskiedenis van die mens tot op Noah en die sondvloed. GAWES VAN DIE HEMEL Band 1 tot 3. Dit het natuurlik van tyd tot tyd gebeur dat Jesus ook persoonlike vrae van Lorber en sy naaste vriendekring vir hulle geantwoord het deur die innerlike woord aan Lorber. Al die informele gesprekvoering gedurende die tydperk 1840 tot 1864 is opgeteken in hierdie drie boeke en dek 'n wye veld van onderwerpe. Geselekteerde hoofstukke is na Afrikaans vertaal. BISKOP MARTIN in Engels beskikbaar as 'From sunset to sunrise'. Hier word die verdere ontwikkeling van die siel van 'n katolieke priester - Biskop Martin - beskryf nadat hy sy liggaam afgelê het. Hierdeur word 'n goeie insig gegee in die wêreld van die hiernamaals en die omstandighede daar. Hoofstukke 1 tot 10 is na Afrikaans vertaal.
VAN HEL TOT HEMEL
Band 1 en 2. In 1848 is 'n menseregte aktivis met die naam van Robert Blum in Wenen deur die owerhede tereg gestel. Sy siel se leiding en verdere ontwikkeling in die hiernamaals word breedvoerig geskilder.
DIE BRIEFWISSELING VAN JESUS MET DIE VORS UKKAMA ABGARUS VAN EDESSA
Dit is 'n heropenbaring van die briefwisseling tussen Jesus en Ukkama Abgarus van Edesssa. Die kerkvader Eusebius het na hierdie briefwisseling verwys en het dele behoue gebly tot vandag toe. Die hergeopenbaarde teks stem goed ooreen met die behoue skrifgedeeltes.
DIE AARDE EN DIE MAAN, SATURNUS, DIE NATUURLIKE SON
is drie afsonderlike boeke waarin die ontstaan, fisiese voorkoms, alle geestelike aspekte, werking en lewe van die planete, mane en die son beskryf word. Ten spyte van talle wetenskaplike deurbrake wat baie van hierdie stellings as waar bewys het, word die algemene wanvoorstelling wat ons het van die planete en die son in perspektief geplaas. Hoofstukke 40 tot 60 is in Afrikaans vertaal.
DER GROSSGLOCKNER en DIE VLIEG
Grossglockner is die naam van 'n berg in die Alpe naby Graz in Oostenryk. In hierdie boek word die natuurlike en geestelike betekenis van berge vir die aarde beskryf en die onsigbare wese en werking van die natuurgeeste daarin en hulle sigbare invloed op die aarde en die atmosfeer.
In Die Vlieg word die natuurlike en geestelike ontstaan, voeding en noodsaaklikheid van die vlieg in oënskou geneem.
DIE GEESTELIKE SON Band 1 en 2. 'n Omvattende beskrywing van die hiernamaals, die geestelike sfeer van die son, en die invloed van verstorwe siele, goed en sleg, op gebeure op die aarde. Hierdie boeke is op 'n hoë geestelike vlak geskryf en word aanbeveel vir geestelik gevorderde lesers. DIE BRIEF VAN PAULUS AAN DIE GEMEENTE IN LAODICEA Die Afrikaanse weergawe is op hierdie webblad beskikbaar. In die brief van Paulus aan die Kolossense 4 vers 16 word melding gemaak van die brief wat Paulus aan die gemeente in Laodicea geskryf het. Hierdie brief is nooit tot die Bybel toegevoeg nie en het mettertyd opsetlik of onopsetlik verlore geraak. Paulus wys in die brief, in sy tipies uitgesproke styl, op die kentekens van valse leerstellings, valse leraars en priesters, wat alreeds op daardie vroeë stadium besig was om onder die Christelike dekmantel, heidense gebruike en seremonies en nuwe selfsugtige geloofswette in te voer. Die Afrikaanse weergawe van hierdie brief, kan op hierdie webblad gelees word SKRIFVERDUIDELIKINGS 'n Breedvoerige verduideliking deur Jesus self van talle belangrike en moeilik verstaanbare skrifgedeeltes uit die Bybel. Die geskiedkundige ontstaan van die Nuwe Testament word ook hierin uiteengesit. ANDERKANT DIE DRUMPEL 'n Insiggewende beskrywing van mense van verskillende vlakke, ouderdomme en geestelike rypheid van die samelewing, se doodservaringe en hoe hulle die oorgang na die geestelike wêreld beleef het, en hoe hulle hulleself in die geestelike wêreld hergeoriënteer het.
DIE GENESINGSKRAG VAN SONLIG en NATUURPRODUKTE 'n Handleiding vir die vervaardiging van songenesingsmiddele; terapeutiese gebruik van sonlig teen allerlei siektes en epidemië. Die verduideliking van die genesingsproses en die aanwysing van natuurlike hulpbronne vir 'n gesonde lewenswyse. DIE TWAALF URE Hier word uit 'n goddelike oogpunt die gedrag en verhouding van verskillende volkere en die kontinente teenoor mekaar verduidelik. Aan hand van baie voorbeelde word getoon dat God en sy engele bewus is van elke nog so klein misstap teen die goddelike orde en wat die gevolge daarvan inhou vir die individu, die gesin, volkere en nasies maar ook die gevolge van 'n godgeseënde gedrag. PSALMS EN GEDIGTE oor verskeie onderwerpe.
BRONNEAlle werke in Duits kan verkry word deur: Verlagsgemeinschaft Friedrich Zluhan OHG Hindenburgstraße 3-5 / P.O. Box 1851 74308 Bietigheim, Germany Tel.: 07142-940843 Faks: 07142-940844 Lorber Uitgewer
'n Laserskyf (CD) met al die werke van Lorber (net in Duits) word uitgegee deur: Disk-plus-Buch-Verlag G. Gutemann, Neuhauserweg 28, D-88709 Hagnau am Bodensee, Germany Tel./Faks 07532-9809 Internet adres: http://www.disk-plus-buch.de E-pos adres: g.gutemann@disk-plus-buch.de
'n Baie goeie inleiding tot Lorber (veral vir lesers met 'n wetenskaplike agtergrond) is saamgestel deur Kurt Eggenstein en kan gelees word onder die volgende adres: http://www.j-lorber.de/kee/0-eggen.htm Verdere vertalings in Afrikaans kan ook op die webwerf van die Lorber Stigting van Suid-Afrika verkry word: http://www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php
VERTALING IN AFRIKAANS
Soos reeds genoem is die oorspronklike in Duits van die middel 1800s geskryf. Dit beteken dat die sinsbou soms paragrawe lank is. Daar is besluit om hierdie sinsbou in Afrikaans by te behou, wat beteken dat alle leestekens soos kommas, kommapunte, punte, aanhalingstekens, ens. presies so oorgeneem is soos dit in die oorspronklike Duits voorkom, wat 'n bietjie ongewone skryfstyl teweeg gebring het. So hier en daar is 'n bykomstige komma toegevoeg om lang gedeeltes van 'n sin 'n bietjie meer oorsigtelik te maak. Die lang sinsbou maak dat die geskrifte nie so maklik leesbaar is nie, maar dit geld ook vir die oorspronklike in Duits. Dit sou nie reg wees om uit die staanspoor 'n tipe 'Nuwe Vertaling' in moderne Afrikaans met 'n kort sinsbou te skep, wat later moeilik aan die oorspronklike terugverwys kan word nie.
'n Woord van dank aan die Disk-plus Uitgewer en by name Gert Gutemann en sy kollegas vir die fenomenale werk wat jare geneem het om al die werke van Lorber op 'n CD te plaas, en wat toestemming verleen het dat die vertaling direk van die CD tekste af gedoen kan word. Dit het die vertalingsproses aansienlik vergemaklik. Die CD word ook gratis aan mense beskikbaar gestel wat nie kan bekostig om dit te koop nie. In dieselfde gesindheid wil ons ook graag hierdie klein bydrae in Afrikaans, sonder koste aan geinteresseerde lesers beskikbaar stel.
Hoofstukke wat in Afrikaans vertaal is, word onder Inhoudsopgawe gelys.
BIOGRAFIE VAN JAKOB LORBER
Bron: 'Jakob Lorber - Lebensbeschreibung' deur Karl Gottfried Ritter von Leitner {1884}, Lorber-Verlag 5de uitgawe 1969(Onderstaande is net verkorte uittreksels van bogenoemde biografie)
BIOGRAFIESE DATA
Gebore: 22.7.1800 in Kanischa, Suidsteiermark (Oostenryk), vandag Slowenië Oorlede: 24.8.1864 in Graz (Graf in Graz, St. Leonhard-Begrafplaas) Vader, Michael Lorber, het as kleinboer en as kapelmeester van die Wandermusiekgroep 'Schwarzenbacher' die familie onderhou. Moeder was Maria, gebore Tautscher. Kinders was Jakob, Michael en Josef. Woonagtig in Kanischa (vandag in Slowenië), Bergholden-Gründe 4 en 5. Jakob Lorber was van huis uit Katoliek en was nooit getroud nie.
OPLEIDING, WERKSAAMHEDE EN PERSOONLIKHEID
Begin skoolgaan op 9 jarige ouderdom in Jahring. Vroeë vordering in musiek op harp, viool, klavier, orrel en ander instrumente soos geleer deur sy vader en skoolonderwyser Anton Udl. Besoek tussen 1817 tot 1819 die voorbereidende skool vir volksskoolonderwysers in Marburg. Ondergaan 1819-24 gimnasiumopleiding in Marburg. Gaan in 1824 na die gimnasium in Graz. Hou skool gedurende 1824-29 as privaat huisonderwyser vir 5 kinders en gee die vakke algemene kennis, musiek en kuns by 'n familie in Graz. Kry 'n paar lesse musiekopleiding by Paganini in 1828. Slaag in 1829 die eindeksamen vir hoërskoolonderwyser in Graz. Woon en werk in Graz, nie as skoolonderwyser nie, maar as private musiekonderwyser vir sang, viool en klavier. Komponeer liedjies en konserte en bied vioolkonserte aan. Skryf musiekresensies vir die plaaslike tydskrif. Werk in 1844-46 by sy broers in Oberkärnten. Hou konserte by die Mailänder Scala as solis. Skryf meeste van die tyd gedurende 1846-57 en verdien sy lewensonderhoud deur konserte en private musiekonderrig te gee. Toer vir 'n paar maande in 1857 met twee harp en kitaarspelers in die hoofstede van Oostenryk en gee konserte. Tot sy dood in 1864 skryf hy net nog en verdien sy onderhoud deur private musiekonderrig te gee en om klaviere in te stem.
Lorber se stokperdjie was amateur sterrekunde en het hy die sterre bekyk met 'n selfgeboude teleskoop en later met 'n Steinheil teleskoop. Lorber self het nie graag baie gelees nie en die enigste boek wat hy gereeld gelees het was sy Bybel. Gedurende latere jare het hy wel sommige werke gelees van Justinus Kerner, Jung-Stilling, Emanuel Swedenborg (1688-1735) , Jakob Boehme (1575-1624) , Johann Tennhart en J. Kerning. Hy was 'n vriendelike, beskeie, saggeaarde en nederige mens wat te min ag geslaan het op sy voorkoms en kleredrag.
Na die afsterwe van Lorber se vader, het Jakob Lorber twaalfduisend Gulde geërf. Dit het egter nie lank gehou nie omdat hy die volle bedrag vir sy broer geleen het wat die' nooit kon terugbetaal nie. En wanneer hy iets verdien het, het hy dit vinnig weer aan behoeftiges weggegee. Die mediese doktor Dr Zimpel, wat verskeie maande in Graz deurgebring het, om Lorber te ontmoet en dop te hou tydens sy skryfsessies, en wat op grond daarvan die eerste werke laat druk het (Die 'Huishouding van God', die 'Jeug van Jesus' en 'Die Maan') beskryf Lorber soos volg: "Hierdie eenvoudige, stil en vrome mens sonder enige fundamentele wetenskaplike opleiding het 'n voortreflike hart en deel met almal wat nog armer is as hy self, die bietjie wat hy het wat ook maar net uit aalmoes bestaan wat hy van vriende ontvang het; ja, hy stel hom tot sulke mate bloot, dat die wereldverstand hom as onbesonne verklaar."
In 'n persoonlike boodskap van Jesus deur Lorber aan Johann Busch (eerste Uitgewer van die Lorbergeskrifte) word onder andere die volgende gese: "My dienskneg (Lorber) is werklik ter wille van My arm; hy kon baie ryk gewees het aangesien hy as klankkunstenaar ook deur My genade die beste vaardighede daarvoor ontvang het. Maar hy het aanstellings en voordelige opdragte van die hand gewys - alles uit groot liefde vir My. En het hy 2 Gulde geld, dan neem hy 40 Kruisers vir homself en 1 Gulde en 60 Kruisers verdeel hy weer onder die armes. Maar daarom het Ek aan hom ook al die skatte van die hemel geopenbaar ..." As gevolg van sy groot vrygewigheid was dit nodig dat hy die laaste paar jaar van sy lewe finansiële hulp van vriende nodig gehad het om aan die lewe te bly.
Lorber word beskryf as 'n mens van vrolike geselskap. Selfs gedurende die jare van skryf het hy gereeld saans na die dag se skryfwerk voltooi was, by sy vriende met 'n glas wyn in opgewekte geselskap deur gebring. Net so opgewek hy oor wereldse dinge kon praat, het hy baie ernstig en bonatuurlik rustig geraak wanneer die gesprek oor dieper aangeleenthede gestrek het. Op musikale vlak het hy kontak behou met o.a. Paganini, Ernst, Vieuxtemps en Eduard Jäll. Noue lewenslange vriendskap het hy gehad met die komponis Anselm Hüttenbrenner; waarskynlik ook met Franz Schubert wat 'n nou vriend was van Anselm Hüttenbrenner. Verdere vriendskap het bestaan met die doktors Justinus Kerner (skrywer van 'Die Siener van Prevorst'), Dr Ch.F. Zimpel (stigter van die Spagyrik genesingsmiddele), Andreas Hüttenbrenner (Burgemeester van Graz); Karl Gottfried Ritter von Leitner (digter en biograaf van Lorber)
BEROEPING
Presies op die tydstip toe Jakob Lorber sy eerste vaste aanstelling met aanvaarbare vergoeding as tweede kapelmeester in Triest bekom het, het sy geestelike beroeping op 15-3-1840 gevolg. Nadat hy sy oggendgebed verrig het, hoor Lorber in die innerlike omgewing van sy hart, duidelik waarneembare woorde: "Staan op, neem jou pen en skryf!" Dadelik gee hy gehoor aan die opdrag en ontvang onmiddelik die eerste paar bladsye van die 'Huishouding van God' (3 Volumes oor die skepping, val van die engele, geskiedenis van die mensdom van Adam tot Noah) deur die innerlike stem woordeliks gedikteer. Op grond van sy beroeping, aanvaar hy toe nie meer die aanbod as kapelmeester nie. Hy het ook geen verdere aanbiedinge aanvaar nie wat hinderlik sou wees vir sy skryfaktiwiteite. Sedertdien het hy vir 24 jaar tot by sy dood, met net kortstondige onderbrekings, die innerlike, hoorbare, woordelikse diktaat neergeskryf, waar die oorsprong hom as Jesus Christus geopenbaar het. Soms het hy ook die innerlike woord aan van sy vriende gedikteer wat dan die skryfwerk gedoen het. Hyself se: "Met betrekking tot die innerlike woord, hoe 'n mens dit verneem, kan ek om van my self te praat net se, dat ek die heilige woord van die Here steeds in die omgewing van my hart soos 'n uiters duidelike gedagte, lig en rein, soos 'n uitgesproke woord, verneem. Niemand, wat ook nog so naby staan, kan niks van enige stem hoor nie. Vir my egter klink hierdie genadestem helderder as elke nog so harde materiële klank." Ooggetuies beskryf die skryfsessies soos volg: By volle bewussyn skryf hy heel na binne gekeer matig vinnig, maar sonder tussenposes om na te dink of om korreksies te maak van dit wat reeds geskryf is, ononderbroke soos iemand wat van iemand anders iets voorgese word. En wanneer die diktate vir 'n paar dae of selfs weke onderbreek is, kon hy sonder om die vorige werk weer op te lees, die nuwe deel in die regte samehang voortsit. Vriend en biograaf Ritter von Leitner skryf: "Reeds op 19 of 20 Maart (sy beroeping het begin op 15/3/1840) het ek Lorber by 'n maan helder aand op die Hoofplein van Graz ontmoet en na ons gegroet het, se hy vir my: 'Luister! Ek ontvang 'n openbaring!' ". Ek was, soos 'n mens natuurlik sal verwag, besorg oor die verstand van die arme, nuwe profeet. Alleen omdat ek vir sy diep innerlike geaardheid steeds agting gehad het, het ek sy aanbod, om na die 'fantasië soos ek sy skrifte aanvanklik beskou het, te kyk, aanvaar. En reeds die volgende dag bring hy vir my 'n paar bladsye ... die skrif was sy handskrif, skoon en sonder enige stylverbeterings ... die eenvoudigheid, betekenisvolheid en deels verhewendheid het 'n ongewone indruk op my gelaat en my genoodsaak hierdie merkwaardige verskynsel voorts my volle aandag te skenk. Reeds op 25 Maart kom ek 'n uitnodiging van Lorber na, om self getuie te word van sy skryfaktiwiteite. Net na my daag ook my vriend die komponis Anselm Hüttenbrenner op, waar ons Lorber wat reeds besig was om te skryf, aangetref het, wat nou in ons teenwoordigheid sy werk rustig voortgesit het, matig vinnig, maar sonder tussenposes en sonder 'n boek voor hom, net geheel na binne gekeer ... Ek het Lorber nou byna elke dag besoek wanneer hy skryf, en telkens was ek een tot twee ure lank getuie van sy geheimsinnige werksaamhede, waartydens tonele van diepste ontroering herhaaldelik voorgekom het."
Ander wat hom gereeld tydens sy skryfsessies dopgehou het was Dr. Justinus Kerner (bekende doktor en skrywer); Dr Ch. F. Zimpel (mediese dokter); die burgemeester van Graz, Andreas Hüttenbrenner en sy broer die komponis Anselm Hüttenbrenner; die digter Karl Gottfried Ritter von Leitner; Dr Anton Kammerhuber; Leopold Cnatily die Apteker van Graz, en verskeie ander mense soos Antonia Grossheim. Mev Grossheim was baie skepties oor die hele aangeleentheid en het in Lorber se afwesigheid sy laaie en kaste deursoek na boeke en ander skrifte wat hy as huplmiddele kon gebruik het. Maar die enigste boek wat sy by hom kon kry was sy Bybel.
Op 'n vraag van 'n vriend aan Jesus deur Lorber op 26/5/1840 hoe die profete gelees moet word, kry Lorber die antwoord: "'n Mens het daarvoor 'n kragtige vergrootglas nodig". Die vriende kon hierdie simbolies bedoelde antwoord nie bevredigend vertolk nie. Lorber self het onder die woord 'vergrootglas' die genade van God verstaan. Op Lorber se herhaalde vraag aan Jesus, volg die antwoord: "Dat My woorde die ander nie verstaan het nie, is nie verbasend nie, maar wel, dat ook jy dit nie verstaan het nie! Die vergrootglas is die nederigheid, wat 'n baie wyer begrip is as wat julle dit gewoonlik beskou. Dit is sy, wat die eie ek baie klein, maar alles wat buite hom is, baie groot laat vertoon."
Dit moet duidelik gestel word dat Lorber nie in 'n 'trance' toestand op 'n meganiese wyse geskryf het nie. Wanneer die innerlike stem gedikteer het, was Lorber passief maar het hy by volle bewussyn na binne geluister en geskryf, of dit wat gehoor is, aan sy vriende weergegee. Hy kon die skrywery op enige tydstip beëindig al was dit in die middel van 'n sin. Lorber kan nie as 'n skryfmedium beskryf word nie omdat sy hand nie meganies deur 'n vreemde intelligensie gelei was nie. Hy het uit vrye wil uit neergeskryf wat hy gehoor het. Hy het volle willsvryheid gehad en het 'n vrye oordeel gehad oor dit wat hy geskryf het. Van tyd tot tyd het dit gebeur dat Lorber ook 'n beeldelike voorstelling gesien het van dit wat aan hom gese was.
Lorber het na homself net as die "Skryfkneg van God" verwys. Niks wat hy geskryf het, is van sy eie oorsprong nie. |