Biskop Martin - (ontwikkeling van n siel in die hiernamaals)
Voorblad Inhoudsopgawe

INHOUD

(Vertaal vanaf die CD uitgawe 2000, deur Disk-plus-Buch Verlag van G. Gutemann.  Vertaal deur AK Hoffmann, 2001)

Hoofstuk 1:
Hoofstuk 2:
Hoofstuk 3:
Hoofstuk 4:
Hoofstuk 5:
Hoofstuk 6:
Hoofstuk 7:
Hoofstuk 8:
Hoofstuk 9:
Hoofstuk 10:

BISKOP MARTIN - (Ontwikkeling van ‘n siel in die hiernamaals)

geopenbaar aan Jakob Lorber

Hoofstuk 1

01] ‘n Biskop, wat groot belangrikheid geheg het aan sy waardigheid en ook aan sy statute, het vir die laaste keer siek geword.

02] Hy, wat self nog as ‘n onderdanige priester, die vreugde van die hemel met die wonderlikste kleure geskilder het - hy, wat dikwels skoon uitgeput geraak het in die beskrywing van die vreugdes en salighede in die ryk van die engele, maar daarbenewens ook nie die hel en die lyding in die vaevuur vergeet het nie, het nou - self al ‘n grysaard van tagtig jarige ouderdom - nog steeds nie die wens gehad, om van sy hoog aangeprysde hemel besit te neem nie; vir hom sou nog ‘n duisend jaar op aarde baie meer aangenamer wees as die toekomstige hemel met alle vreugdes en salighede.
03] Daarom dan nou ons sieklike Biskop ook alles probeer het, om weer liggaamlik gesond te word. Die beste doktors moes steeds om hom wees; in al die kerke van sy distrik moes kragmisdienste gelees word; al sy skapies is gevra, om vir sy verdere behoud te bid en vir hom vrome geloftes af te lê en te hou in ruil vir ‘n volledige vrywaring. In sy siekekamer is ‘n altaar opgerig, waar in die voormiddag drie misdienste gelees moes word ter herwinning van sy gesondheid; in die namiddag moes steeds by die uitgeplaasde sanktissimum (allerheiligste) die drie vroomste monnike aanhoudend die brevarium (pligsgebed van katolieke priesters) bid.
04] Hyself het dikwels uitgeroep: “O Heer, wees barmhartig met my! Heilige Maria, liewe Moeder, help my, wees barmhartig teenoor my waardigheid en genade as biskop, wat ek dra ter ere van jou en ter ere van jou seun! O moet tog nie jou getroue dienaar verlaat nie, jy wat alleen kan help uit elke nood, jy die enigste stut van almal wat ly!”
05] Maar dit het alles niks gehelp nie; ons man het weggeraak in ‘n baie diep slaap, waaruit hy aan hierdie kant nie meer wakker geword het nie.
06] Watter ‘baie belangrike’ seremonies op aarde alles met die liggaam van ‘n Biskop gedoen word, dit weet julle, en ons hoof ons nie langer daarmee ophou nie; laat ons eerder onmiddelik na die geesteswêreld kyk, en sien wat ons man daar sal aanvang!
07] Sien, daar is ons reeds - en sien, da lê ook ons man nog op sy bed; want solank daar nog warmte is in die hart, maak die engel die siel nie los van die liggaam nie. Hierdie warmte is die senuweegees, wat eers van die siel volledig opgeneem moet word, alvorens die volle ontbinding kan plaasvind.
08] Maar nou het hierdie man se siel reeds volledig die senuweegees opgeneem, en die engel maak die siel nou los van die liggaam met die woorde: ‘Epheta’, wat beteken ‘Gaan oop, jy Siel; maar jy Stof sink terug in jou ontbinding vir die losmaking deur die ryk van die wurms en vermolming. Amen.’
09] Nou sien, reeds staan ons Biskop op, net soos wat hy geleef het, in sy volle biskop ampsklere en open sy oë. Verbaas kyk hy om hom en sien behalwe homself niemand nie, ook nie die engel nie, wat hom wakker gemaak het. Die lig van die omgewing is soortgelyk die’ van ‘n taamlik laat skemering, en die grond is ‘n soort dorre alpemos.
10] Ons man is nie min verbaas nie oor hierdie uitsonderlike aanskouing en praat nou met homself: “Wat is dit? Waar is ek dan? Lewe ek nog of het ek reeds gesterf? Ek was baie siek en dit kan maklik moontlik wees, dat ek my nou onder die afgestorwenes bevind! - Ja, ja, om Gods wil, dit sal reeds so wees! - O heilige Maria, heilige Joesph, heilige Anna, julle my drie magtigste steunpilare: kom en help my om in die hemelryk te kom!”
11] Hy wag ‘n rukkie, en kyk besorg rond om hom, van watter kant die drie nou sal kom; maar hulle kom nie.
12] Hy herhaal die oproep met ‘n harder stem en wag; maar daar kom nog steeds niemand nie!
13] Nog harder herhaal hy nou die oproep vir die derde keer, - maar ook hierdie keer te vergeefs!
14] Daarop word ons man nou baie bang. Hy begin, om ‘n bietjie wanhopig te word en sê in sy toenemende situasie van vertwyfeling: “O, om Gods wil, Heer, staan by my! (maar dit is net sy gewone manier van praat) - Wat is dit dan? Driemaal het ek geroep, - en tevergeefs!
15] Is ek dan verdoem? Dit kan nie wees nie, want ek sien geen vuur en geen God-staan-by-my (duiwels) nie!
16] Hahahaaaaa (bewend) - dit is werklik skrikwekkend! - So alleen! O God, indien nou so ‘n God-staan-by-my opdaag, en ek - geen seënrook, driemaal gewyd, geen kruisbeeld, - wat sal ek doen?!
17] En vir ‘n Biskop, word gesê, het die God-staan-by-my ‘n heel besondere passie! - O, o, o, (bewend van angs), dit is nou ‘n heel wanhopige storie! Ek glo nou, dat by my ‘n geween en ‘n gekners van tande begin?
18] Ek sal my biskopkleed uittrek, dan sal die God-staan-by-my my nie so maklik herken nie! Maar dan het die God-staan-by-my dalk nog meer mag oor my?! - O wee, o wee, wat is tog die dood vir ‘n verskriklike ding!
19] Ja, as ek tog maar net heeltemal dood sou wees, dan sou ek ook nie bang wees nie; maar hierdie lewendig wees na die dood, is ! O God staan by my!
20] Wat sal gebeur, as ek aanstap? Nee, nee, ek bly! Want wat hier is, dit weet ek nou uit die kort ondervinding; maar watter gevolge net ‘n raaiselagtige stap voor- of agtertoe inhou, dit sal alleen God weet! Daarom wil ek in God se naam en in die naam van die salige maagd Maria liewer tot op die jongste dag hier vertoef, as om ook net een haarbreedte voor- of agtertoe te beweeg!”


BISKOP MARTIN - (Ontwikkeling van ‘n siel in die hiernamaals)

geopenbaar aan Jakob Lorber

Hoofstuk 2

01] Nadat ons man vir die tyd van ‘n paar ure muurvas bly staan het, en daar niks gebeur of in sy nabyheid niks verander het nie, het vir hom ooreenkomstig die tyd (want ook in die natuurgebonde sfeer van die geesteswêreld kry jy ‘n verskynsel soortgelyk die aardse tyd) tot vertwyfeling lank geword, en het hy weer begin, met homself te fantaseer:

02] “Eienaardig, nou staan ek minstens vir ‘n halwe ewigheid op een en dieselfde plek, en alles bly net soos voorheen! Niks roer, geen mos, geen haar op my kop, ook my klere nie! Wat sal daar uiteindelik gebeur?
03] Is ek dalk verdoem, om vir ewig hier te bly? - Ewig? Nee, nee, dit kan nie wees nie, want dit sou dan reeds die hel wees! En sou dit hier die geval wees, moes ook reeds die verskriklike horlosie van die hel met die allerverskriklikste pendule sigbaar wees, wat by elke swaai roep: ‘Altyd!’ - o, verskriklik! -, dan weer: ‘Nooit!’ - o o, nog meer skrikwekkend!
04] Dankie Here, dat ek net nie hierdie skrikteken van die ewigheid sien nie! Of sal dit eers na die jongste dag sigbaar word! Sal dan binnekort die teken van die Menseseun aan die uitspansel sy verskyning maak? Hoeveel miljoene jare staan ek dan reeds hier? Hoe lank sal ek nog moet staan; tot die verskriklike jongste dag sal kom?!
05] Werklik eienaardig: Op aarde is niks sigbaar, wat binnekort met die jongste dag enige betrekking kon gehad het nie; maar hier in die geesteswêreld lyk dit nog eindeloos meer stom! Want daar vergaan ‘n duisend jaar net soos ‘n kort stom oomblik, en ‘n miljoen jaar gee ‘n mens eweneens nie meer insig nie! As ek tog net nie so vas van geloof sou wees nie, sou ek byna aan die bestaan van die jongste dag begin te twyfel, soos oor die algemeen aan die egtheid van die hele evangelie!
06] Want dit is tog eienaardig, dat alle profete wat daarin voorkom, het ‘n frappante ooreenstemming met die delfiese Orakelspreuke! ‘n Mens kan van hulle maak , net wat jy wil; hulle kan met ‘n paar eksegetiese draaie op alles aangewend word en niemand kan dan sê: ‘Op hierdie enigste feit het hulle betrekking!’ Kortom, hulle pas basies vir die sitvlak net so goed soos vir die gesig! - En die Heilige Gees, wat veronderstel is om in die evangelie verborge te wees, moet ‘n bra skaars voëlsoort wees, aangesien hy sedert die ou aposteltye nooit sy verskyning gemaak het, behalwe in die belaglike brein van ‘n paar protestanse ketterige dwepers ... soos duisend-en-een nag!
07] Ek het nog steeds ‘n baie vaste geloof, maar of dit onder hierdie omstandighede nog langer sal vas bly, daarvoor kan ek werklik nie instaan nie!
08] Ook met die’ in my kerk hoogs aangeprysde Maria, soos met die totale heilige litanie lyk dit vir my, het dit sy eie vreemde toedrag van sake! Sou daar enigsins iets wees met Maria, sou sy vir my al lankal gehoor het; want vanaf ek afgesterwe het tot die huidige oomblik het volgens my gevoel ongeveer een miljoen jaar verstryk; van die moeder van God, en van haar Seun, en van enige van die ander heiliges is ook nie die vaagste spoor te sien nie. Dit is werklik helpers in nood, soos wat jy hulle nie beter kan kry nie! - Sê twee miljoen jaar kompleet - en van almal geen teken nie!
09] As ek tog net nie so ‘n vaste geloof gehad het nie, sou ek al lankal nie meer op hierdie uiters eensame plek bly staan nie; net my domste geloof hou my vas! Maar lank sal dit nie meer vir my hou nie! Moet ek dan nog ‘n paar miljoen jaar hier sit soos ‘n struikrower en na afloop so ‘n grieselrige lang tyd net so min bereik soos tot dusver? Dan sou ek ‘n dwaas wees! Is dit dan nie genoeg dat ek op aarde die rol van ‘n nar gespeel het vir niks en weer niks nie? Daarom sal ek aan hierdie vrugtelose komedie vinnig ‘n einde maak!
10] Op die aarde is ek nog vir my onnoselheid eerlik betaal en dit het betaal om daar, die nar te speel; maar aangesien by hierdie saak niks geleë is, soos dit nou deur my miljoen jarige ervaring duidelik geword het, sal ek binnekort van al die narrery geheel en al afstand doen!” -
11] Sien, nou sal hy binnekort die plek verlaat, nadat die engel vir hom die paar ure van sy verblyf hier, in ‘n gevoel van ‘n paar miljoen jaar omskep het. - Nog staan ons man muurvas op een punt en kyk ‘n bietjie skaam na alle rigtings, om vir hom ‘n pad te kies, waarlangs hy kan loop. Nou konsentreer hy op ‘n punt in die rigting van die aand, waar dit vir hom wil voorkom, asof daar iets beweeg. Hy word daaroor nou ook merkbaar verleë en praat weer by homself: “Wat sien ek dan nou daar in ‘n afstand vir die eerste keer sedert my verskriklik vervelige teenwoordigheid hier vir etlike miljoene jare? Die storie veroorsaak ‘n groot angs in my, want dit wil my voorkom, asof daar tog soort van saggies ‘n voorbereiding getref word vir ‘n oordeel!
13] Moet ek dit waag, om daarheen te gaan? Op die ou end is dit my ondergang vir ewig? Maar dalk ook ‘n uiteindelike verlossing?!
14] Nou is reeds alles ‘n God-staan-by-my; want iemand soos ek wat miljoene aardjare op een punt in verbanning deurgebring het, vir hom maak dit nie meer saak, wat daar nog verder met hom kan gebeur nie! Wat kan daar nog erger met ‘n eerlike mens boonop gebeur, as om bo alle beeldsuile aanhoudend vir miljoene jare - in die ware sin van die woord op een punt verban - geheel en al werklik verdoem te wees?!
15] Daarom, soos die myners op aarde sê, wanneer hulle in ‘n skag afry, sê ook ek: Op geluk! Ek is nie gepla nie; ek sal dit net eenvoudig probeer! Meer as vir ewig dood gaan kan ek nie! Waarlik, dit sal ek hoogs verwelkom; want om met so ‘n lewe voort te gaan, soos nou hierdie - miljoene jare op een plek! - geen vaste ster sou dit kon uithou nie! Daarenteen is ‘n ewige nie-bestaan oneindig keer meer winsgewend!
16] Daarom, moet nie vir ‘n oomblik langer huiwer nie! Gaan die pad waarheen dit wil! Daar is nou een - nee, dit kan ek nou tog nog nie sê nie; want hier is nog ‘n sterk Terra inkognita (onbekende terrein) vir my! Daarom wees net beskeie, solank ‘n mens nie weet nie, waarop eintlik jou voete staan!
17] Die storie daar beweeg al hoe meer; dit lyk soos ‘n boompie, wat deur wind geroer word! - Net moed, my voete wat natuurlik al lankal vergeet het om te loop! Kom ons kyk, of ek nog kan loop!
18] Ek het dit wel eendag op die aarde gehoor - soos wat ek nog kan onthou -, ‘n gees hoef net eintlik te dink, en dan sou hy ook reeds al daar wees, waar hy wil wees. Maar juis met die geesteskap en my persoon wil dit voorkom asof dinge nie reg loop nie! Want ek besit voete, hande, kop, oë, neus, mond - kortom alles, wat ek op aarde gehad het, - maag ook; maar hy het al lankal ‘n kardinale vasdag gehad! Sou dit nie wees vir die digte mos met baie dou daarop, sou ek al lankal tot ‘n atoom inmekaar gekrimp wees! Dalk kan daar ook iets beter vir die maag verkry word?!
19] Nog ‘n keer: Op geluk! ‘n Verandering, beter as niks; dit kan onmoontlik slegter wees as my huidige toestand. Want wie vir miljoene jare op een plek staan, hy sal hom tog kan roem met ‘n ware miljoen-toestand?! - Dus, in Gods naam!”


BISKOP MARTIN - (Ontwikkeling van ‘n siel in die hiernamaals)

geopenbaar aan Jakob Lorber

Hoofstuk 3

01] Sien, nou sit ons man sy voete in beweging en gaan met versigtige en toetsende treë na sy voorwerp wat steeds meer begin om te beweeg.

02] Na ‘n paar treë is hy ook al reeds in ‘n gesonde toestand daar, en is nie min verbaas, om onder die boom ‘n man nes hyself, te vind, naamlik ook ‘n biskop in optima forma, - vanselfsprekend net volgens sy gedaante; want in werklikheid is dit die Engel, wat steeds onsigbaar langs ons man se sy gestaan het. Maar die Engel self is die salige gees Peetrus.
03] Hoor nou, hoe ons man sy vermeende kollega aanspreek en verder met hom praat! So begin hy:
04] “Sien ek dan reg of is dit bloot ‘n oëverblindery? ‘n Kollega, ‘n medewerker in die wingerd van die Here?! Watter eindelose vreugde, na miljoen jare uiteindelik weer ‘n mens, en dan nog ‘n kollega, in hierdie woestyn van alle woestyne te vind!
05] Ek groet jou, liewe broer! Sê vir my, hoe het jy dan hiernatoe gekom? Het jy dan ook my ouderdom in hierdie mooi geesteswêreld bereik? Weet jy, so min of meer vyf miljoen jaar op een en dieselfde plek, - vyf miljoen jaar!”
06] Die Engel as vermeende kollega van die Biskop sê: “Vir eers is ek vir jou ‘n broer in die Here en natuurlik ook ‘n ou werker in sy wingerd. Maar wat my ouderdom betref, is ek volgens tyd en werksaamhede ouer, maar volgens verbeelding baie jonger as jy.
07] Want sien, vyf miljoen jaar op aarde is ‘n aansienlike tydperk vir ‘n gees wat geskep is, - alhoewel dit voor God skaars iets beteken, omdat Sy bestaan nóg deur die opeenvolging van tydperke, nóg deur ruimtelike-uitbreidings gemeet kan word, maar in alles ewig en oneindig is!
08] Jy is daarom in ‘n groot verwarring as nuweling in die eindelose wêreld van die geeste. Want sou jy vyf miljoen jaar hier wees, dan sou jy al lankal ‘n nuwe kleed aanhê, aangesien gedurende daardie tydperk die berge van die aarde lankal plat en die valleie opgevul, die mere, seë, riviere, en moerasse uitgedroog wees. En op aarde sal dan ook ‘n heel nuwe skepping bestaan, maar waarvoor nou nog nie die kleinste saadjie in die voor gelê is nie!
09] Maar dat jy, liewe broer, dit self agterkom, dat jou vermeende ouderdom net ‘n selfopgemaakte fantasie is, wat vir jou ontwikkeling toegelaat is maar in jou self sy oorsprong het volgens jou begrippe van tyd en ruimte, wat by jou sterk met die hel ingesout is - kyk dan agter jou en jy sal jou liggaam ontdek wat eers drie ure gelede afgeskei is!”
10] Sien, ons man kyk nou vinnig na agter en ontdek daadwerklik sy liggaam, nog daarby op die’ in die koepelkerk spesiaal opgerigte paradebed, omring deur ‘n groot aantal kerse en ‘n nog groter aantal lui en nuuskierige mense, wat rondstaan. - Toe hy die’ skouspel gewaar, het hy baie kwaad geword en gesê:
11] (Die Biskop:) “Liefste broer, wat moet ek daar doen? Ag, watter afskuwelike onsin! Voor my word die verskriklik verveelige minute ‘n ewigheid, en tog is dit ek, wat hierdie liggaam bewoon het! Ek weet skaars nie van honger en ‘n tekort aan lig hoe om my self te help nie, en hierdie dwase verafgod my vleesrok! Het ek dan as gees nie die krag daarvoor, om hierdie rommel in klein stukke te skeur en soos kaf deurmekaar te gooi nie? - O julle dom God-staan-by-ons! Wat wil julle dan vir die stinkende drek welwillendheid betoon?!
12] Die Engel praat: ”Draai weer om na my toe en moenie kwaad word nie; het jy tog dieselfde gedoen, toe jy nog deel was van die natuurlike wêreld! Laat die dooies die dooie begrawe; maar jy wend jou af van al dit en volg my, dan sal jy by die lewe uitkom!”
13] Die Biskop vra: “Waarheen moet ek vir jou volg? Is jy dalk nog die beskermheer van my naam, die heilige Bonifazius, dat jy nou blyk om sodanig besorg te wees oor my heil?”
14] Sê die Engel: “Ek sê in die naam van die Here Jesus: jy moet my volg na Jesus toe! Hy is die regte Bonifazius van alle mense; maar met jou Bonifazius is daar niks, en ek is dit allermins, waarvoor jy my blyk te hou, - maar iemand heel anders! Maar volg my, dit wil sê doen, wat ek nou vir jou sal sê dan sal jy eerstens alles verstaan, wat jy tot dusver teëgekom het, en hoe, deur wat en hoekom. Tweedens sal jy ook onmiddelik op ‘n beter stukkie grond beland; en derdens sal jy juis daar die Here quad personam {hoogs persoonlik} leer ken, deur hom die weg in die hemel, en daarmee saam ook vir my, jou broer!”
16] Sê die Biskop: “Praat, praat, ek wil eerder vlieg as loop van hierdie vervelige oord!”
17] Sê die Engel: “Dan luister! Trek onmiddelik jou belaglike rok uit en trek daardie gewone boereklere aan!”
18] Sê die Biskop: “Gee net hier; hier verruil ek hierdie vervelige kleed graag met die mees eenvoudigste lappe!”
19] Sê nou verder die Engel: “Mooi - sien, reeds is jy in boereklere; nou volg my!”


BISKOP MARTIN - (Ontwikkeling van ‘n siel in die hiernamaals)

geopenbaar aan Jakob Lorber

Hoofstuk 4

01] Hulle gaan nou verder, meer teen middag gerig, en kom by ‘n doodgewone plaasopstal uit, waar daar voor die opstal ‘n maklik herkenbare klein Lutherse kapel staan. Toe die Biskop hierdie grootste doring van sy oog gewaar, bly hy staan, om een kruis na die ander oor sy baie bles voorkop te slaan en ook met die vuis op sy bors slaan waartydens hy sê ‘Mea culpa, mea culpa,mea maxima culpa’ {my skuld, my skuld, my grootste skuld}.

02] Maar die Engel vra vir hom: “Broer, wat is dan verkeerd? Pla iets vir jou? Hoekom loop jy nie verder nie?”
03] Die Biskop sê: “Sien jy dan nie die Lutherse kapel, wat die God-staan-by-my is in lewende lywe nie? Hoe kan daar ‘n Christen by so ‘n verfl... - o, wil dit nie sê nie - oord nader kom?
04] Of is jy dan self die vermomde God-staan-by-my?! - - - Ooooo - indien jy dit - is, dan gaan weg van my, o jy afskuwelikste - God-staan-by-my!”
05] Sê die Engel: “Wil jy dan nog ‘n keer die paadjie loop van jou 5-10 miljoen jaar op een nog baie meer duister en droë plek van die geesteswêreld deurbring? Wanneer jy dit eerder wil doen, sê dit net reguit; sien, hier is jou ou biskopklere reeds gereed! Maar hierdie keer sal jy tien maal so lank moet wag, tot iemand vir hulp sal opdaag!
06] Sien jy dan nie dat ek nog in jou biskopklere rondloop nie? Julle het tog die mening en sê: die duiwel kan hom wel in ‘n engel van die lig vermom, maar die’ van die heilige gees deurdringde figuur van ‘n biskop kan hy onmoontlik namaak! Indien jy jou eie mening nie self wil verdoem nie, hoe kan jy vir my as die duiwel beskou? (die Biskop sak feitlik inmekaar, slaan ‘n groot kruis en sê: ‘God staan by ons!’)
07] Maar wanneer jy jou dogmatiese mening verdoem, wat uit die onoorwinlike rots Petri deur die poorte van die hel afkomstig is, dan maak jy daardeur die hele Rome tot niet. En ek begryp dan nie, hoe vir jou as ‘n klaarblyklike teenstander van Rome hierdie klein huisie ‘n verleentheid kan wees nie, wat jy vir ‘n evangeliese tempel hou?! Sien jy dan nie, dat daar in jou hele huidige gedrag maar ook nie die vaagste spoor van ‘n morele en nog minder godsdienstige konsekwentheid teenwoordig is nie?”
08] Sê die Biskop: “Jy is natuurlik ongetwyfeld baie reg, wanneer ‘n mens die saak onder die lig beskou. Maar wanneer jy ‘n werklike biskop is, dan sal vir jou vanuit Rome bekend wees, dat daar elke opreg gelowige al sy verstand onder die gehoorsaamheid van die blinde, afdwingbare geloof moet laat gevange neem! Maar waar die verstand met die ergste boeie gebind is, waar sal daar by iemand soos ons ‘n konsekwentheid in denke en optrede na vore kom?!
09] By ons sê dit: ‘Die mens moet vir al afstand doen, om in die gees van gelowigheid in te dring; hy weet niks nie, en moet alles blindelings en vas glo! Dit is meer heilsaam vir die mens, as ‘n dwaas in die hemel, as om as ingeligte in die hel te kom! ‘n Mens vrees God terwille van die hel en wees lief vir Hom ter wille van die hemel!’ Wanneer dit die basis van ons leerstellings is, hoe wil jy dan van my ‘n konsekwentheid hê?”
10] Sê die Engel: “Ongelukkig is ek net te bekend, hoe dit met die leerstellings van Babel staan, en hoe dit reglynig teenoorgesteld is as die Evangelie, waar dit uitdruklik sê: ‘Moenie verdoem nie, sodat julle nie verdoem word nie; en moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie!’ Maar julle verdoem en oordeel aldag almal, wat nie onder die Babelsepter wil buig nie!
11] Sê: Is julle dan uit Christus, wanneer julle tog nie in die minste met sy aller sagste leerstelling saamstem nie? Is in die boodskap van Christus nie die grootste, mees verhewe orde en konsekwentheid geleë soos in die res van die hele skepping nie? Waai nie die volheid van die Heilige Gees uit elke woord van die Evangelies nie? Was julle dan in woord en daad nie altyd teen die Heilige Gees, wat die’ van die Here vooraf verkondigte boodskap vir ewig blywend aan die apostel en dissipels weergegee het nie?!
12] Jy sien daaruit, op watter verdoemende grond jy staan, so heeltemal ryp vir die hel! Maar die Here wil vir jou genade voor regverdigheid gee; daarom het Hy vir my na jou toe gestuur, sodat ek vir jou kan red uit jou ou Babiloniese gevangenskap!
13] Op grond hiervan is dit die wil van die Here, dat jy jou vir al met jou grootste oogdoring moet vergelyk en versoen, indien jy ooit op die hemel ‘n genade-aanspraak wil neem. Maar wil jy by jou Babelse leerstellings bly, dan sal jy jouself hel toe dryf, waaruit beswaarlik ooit ‘n vriend van Jesus die Here jou sal kom uithaal!”
14] Sê die Biskop: “Ja, ja, liefste vriend, daar begin, vir die eerste keer iets van ‘n konsekwentheid in my op te kom! Daarom wees net geduldig met my; ek wil tog in Gods naam doen, wat jy wil! Maar moet tog net nie meer praat van die verskriklikste hel nie - en lei my net verder!”
15] Sê die Engel: “Ons is vir eers reeds by ons bestemming. Sien, juis hier by hierdie Lutherse boer en terselfdertyd biskop, wat ek is, sal jy ‘n werk as skaapwagter kry; die getroue hantering van hierdie amp sal vir jou brood en ‘n geleidelike opgang bewerkstellig! Sal jy daarby nukkerig en klaend te werk gaan, sal jy vir jouself baie skade aandoen en sal jou brood en opgang beperk word! Maar wil jy ‘n getroue dienskneg wees, dan moet jy nie meer aan jou aardse lewe terug dink nie, maar eerder, dat jy hier weer van onder af moet begin, wanneer jy vorentoe wil beweeg!
16] Maar dit onthou baie goed: om vorentoe te gaan beteken hier om terug te staan en die laaste en geringste te wees. Want niemand kom eerder na die Here, as wat hy homself tot by sy kleinste toon deur en deur in alles en teenoor almal nederig gemaak het. - Nou weet jy vir hierdie jou omstandighede alles; daarom volg my in hierdie huis met ‘n goeie hart! Jou wil!”
17] Die Biskop volg hom nou sonder opmerking, want hy sien, dat sy leier dit onmoontlik sleg met hom kan bedoel.


BISKOP MARTIN - (Ontwikkeling van ‘n siel in die hiernamaals)

geopenbaar aan Jakob Lorber

Hoofstuk 5

01] Toe altwee in die huis kom, wat baie eenvoudig en net met die nodigste ingerig was, gewaar ons Biskop op ‘n klein driehoekige tafel die Lutherse Bybel van die Ou en Nuwe Testament en was as gevolg daarvan opmerklik verleë.

02] Maar die Engel Petrus het dit onmiddelik opgemerk en sê vir hom: “Wat het Luther ooit vir jou gedoen, dat jy met groot veragting vir hierdie man ook sy getroue vertaling van die Bybel, waarin niks as die suiwer woord van God staan nie, ook verag?
03] Sien, was Luther ook nie ten volle ‘n man, van wie met volle reg gesê kan word: ‘Hy was ‘n man volgens die hart van God!’ nie, was hy tog met afstand baie beter as baie uit jou kerk, wat dink hulle is alleen reg en uiters volmaak, maar is in werklikheid die mees onvolmaaktes en die heel laastes! Maar hy alleen het in die middel van die mees donker Babelnag die prysenswaardige moed gehad, om weer vir die mensdom die suiwer woord van God te gee, om hulle daardeur op die regte pad na die Here te lei!
04] Was op hierdie pad ook wel ‘n paar donker kolle aangetref wat natuurlik die gevolg was van die te nabye Babel (Rome) -, was sy leerstellings volgens die suiwer woord van die Here teenoor die ou dwaalleerstellings van Rome nog steeds beter soos die middagson vergeleke met ‘n heel duister moeraslig in ‘n pikdonker nag!
05] Maar indien Luther dit in die naam van die Here gedoen het, sê, watter rede het jy dan, hierdie waardige man so te versmaai en te verag?”
06] Sê die Biskop: “Ek verag hom nie juis nie; maar jy weet dit al, wanneer ‘n mens vir ‘n lang tyd die slaaf van ‘n party was, het jy mettertyd ‘n kunsmatige haat opgebou teen hom, wat die party by duisende geleenthede vervloek en verdoem het! Dit is dan ook by my die geval. Maar ek hoop op God en verwag van Hom, dat Hy my sal help, om al my van die aarde afkomstige onnoselhede van A tot Z af te lê. Daarom moet jou tog asseblief nie aan my steur nie, dit sal hopelik met my nog beter word!”
07] Sê die Engel Petrus: “O broer, moenie vir my, maar net vir jouself tot geduld vermaan! Want jy weet dit nog nie, wat jy alles sal teëkom nie; maar ek weet dit en moet daarom so met jou omgaan, dat jy in die waarheid versterk word, om daardie versoekinge kragtig kan teenstaan, wat duisendvoudig op jou weg na die Here sal voorkom.
08] Daar kyk by die venster uit! Sien jy daar die baie duisend skape en lammers, hoe hulle opgewonde deurmekaar hardloop en spring?
09] Maar hier is ‘n boek, in wie hulle name opgeteken is; vat dit vir jou en roep hulle almal by die naam daaruit! Wanneer hulle in jou roepstem die regte herder se stem herken, sal hulle vinnig na jou toe kom. Maar wanneer hulle by jou die stem van ‘n huurling hoor, dan sal hulle uitmekaar spat en vir jou vlug. Maar wanneer dit gebeur, dan moet jy nie mor nie, maar erken, dat jy ‘n huurling is; en dan sal ‘n ander herder na jou toe kom en sal vir jou leer, hoe om skape en lammers op te pas en hoe hulle geroep moet word!
10] Neem nou hierdie opgawe; gaan uit en doen, soos ek dit nou vir jou aangeraai het!”


BISKOP MARTIN - (Ontwikkeling van ‘n siel in die hiernamaals)

geopenbaar aan Jakob Lorber

Hoofstuk 6

01] Ons man gaan in sy boereklere met ‘n taamlik dik boek onder die arm uit, waar aan hom die trop uitgewys was, wat op ‘n (geestelike) afstand werklik soos skape en lammers gelyk het. Maar in geestelike nabyheid het die trop uit ‘n hele aantal vrome en saggeaarde mense bestaan, hoofsaaklik vroulike siele, wat op die aarde by uitstek kruisvroom gelewe het, maar daarby op die Roomse geestelikheid baie groter stukke gehou het as op My, aangesien hulle My nie geken het nie en ook nou nog nie erken het nie - waarom hulle dan ook in ‘n geestelike afstand nog as diere van die sagste soort uitgemaak kon word.

02] Toe ons man nou uitkom, so reg opgewek soos iemand wat na ‘n lang praktiese opleiding vir die eerste keer in ‘n betaalde amp aangestel word, het hy op ‘n klip bedek met mos gaan sit, en kyk toe om hom, waar die skape en lammers was. Maar hy sien toe niks meer van hierdie nuttige huisdiere nie, maar ‘n groot aantal van die aller mooiste en fynste meisies, wat op ‘n uitgebreide grasmat vrolik rondspring, blomme versamel en daaruit die mooiste kranse en kransies gevleg het.
03] Toe ons man dit opmerk, toe sê hy by homself: “Hm, dit is eienaardig! Dit is tog dieselfde plek, dieselfde grasperk, waar ek voorheen ‘n byna ontelbare hoeveelheid skape en lammers ontdek het. Nou is die trop soos weggeblaas en in sy plek is duisend van die allerliefste meisies, waarvan die een mooier is as die ander! Eerlik gesê, indien hierdie hele storie nie enige skelmstreek is nie, dan sou hierdie trop natuurlik vir my ongelooflik meer aantreklik wees; maar ‘n mens mag hier in alle erns nie jou sintuie vertrou nie, want - keer die hand om, en dit is alles heel anders!
04] O nee, o nee, nou kom hulle almal na my toe, sonder dat ek hulle name gelees het! Nou ja, ook goed so; dan sal ek hierdie liewe kinders tog van naby so reg na hartelus kan bekyk, en - oh, oh! - miskien kan ek hier die een of die ander omhels? Dan sou dit werklik nie so ‘n slegte plek wees, om tot in alle ewigheid hier ‘n herder van die’ wonderbaarlik veranderde skaaptrop te wees nie! Werklik nie sleg nie, nie sleg nie! -
05] Hulle kom nader; en soos hulle nader kom, des te mooier lyk hulle! Die een daar voor in die middel - oh, oh, is sy’ dan mooi! - O my morele krag, moet my nie verlaat nie, andersins is ek verlore! Dit is net goed so, dat hier die dom selibaat geen geldigheid meer het nie, andersins kan ‘n man hier op die maklikste manier ‘n doodsondaar word!
06] Ek moet hulle eintlik uit die boek by hul name roep, maar dit sal ek nou beslis nie meer doen nie; want dan sou hulle klaarblyklik weg hardloop en nooit weer te voorskyn kom nie! Daarom net mooi rustig, jy my dik naamboekie; vir hierdie trop sal jy net mooi gesluit bly!
07] Hulle kom nader en nader, en - net stil nou, nog tien treë en hulle is daar; ja, daar is die liewe engeltjies nou by my! - O julle liefste, liefste engeltjies!”
08] Sien, nou is die ‘liewe engeltjies’ reeds by ons man, omring hom en vra vir hom, wat hy hier moet kom doen?


BISKOP MARTIN - (Ontwikkeling van ‘n siel in die hiernamaals)

geopenbaar aan Jakob Lorber

Hoofstuk 7

01] Ons man, heel weg van so baie lieftalligheid en liefde, antwoord met ‘n bewerige stem: “O julle - hemelse engeltjies, o, o, o, julle liewe, liewe engeltjies! - O, ohooooh, julle allerliefste engeltjies van God! - Ek - moet - julle - herder wees; maar julle aller-, allerliefste engeltjies, julle sien mos, dat ek daarvoor veels te dom is!”

02] Die mooiste van die trop gaan sit op bloot kinderlik vertroulike manier reg langs ons man en die ander volg haar voorbeeld. Juis die aller mooiste sê nou vir ons herder: “O liewe man, jy is te beskeie; want ek dink jy is baie mooi, en indien jy wil, dan sou ek oorgelukkig wees, om vir ewig aan jou te behoort! Kyk na my, lyk ek dan nie mooi vir jou nie?”
03] Ons man sê van te veel verliefdheid niks anders as net sy baie bewerige en eindelose Ooooooooh; want die besonder mooi, goudblond krulkop, met die vriendelikste groot, blou oë, die roosagtige mond, die hemelse vol afgeronde borste, die mooiste, ronde hande, soos die nog meer hemelse voete, maak ons man byna van sy verstand af.
04] Die engel sien die herder se groot liefdesopgewondenheid, buig oor hom en gee hom ‘n soen op sy voorkop.
05] Tot nou toe het ons man nog redelik dapper uitgehou; maar nou was dit een te veel! Hy het deur en deur opgewonde geraak; omhels die mooiste met al sy kragte en bars uiteindelik in ‘n stroom van liefdesverklarings uit.
06] Maar toe hy so in sy ‘Dulcissimum’ kom, verander skielik die hele opset. Die liewe engeltjies het verdwyn en die Engel Petrus staan by ons man en sê:
07] “Maar Broer, hoe wei jy dan die skape? Het ek vir jou sulke raad gegee? Ja, wanneer jy op die’ manier met die toevertroude skape en lammers omgaan, dan sal jy waarskynlik vir ‘n baie lang tyd nie die ewige lewensdoelwit behaal nie! Hoekom het jy dan nie die boek gebruik nie?”
08] Sê die Biskop: “Hoekom het jy dan nie vir my gesê, dat daardie van jou huis af gesiene skape en lammers in werklikheid net die aller mooiste en prikkelendste meisies is, by wie net ‘n klip onbetrokke kan bly nie?! Jy sien, dat ek daar as ‘t ware net om die bos gelei was, en dan sal jy tog uit sulke gekskeerdery nie so ’n vreeslike bohaai maak nie?”
09] Sê nou die Engel: “Hoe lyk dit dan nou met jou selibaat? Het jy dit nie nou verbreek en ook die gelofte van die ewige kuisheid nie?”
10] Sê die Biskop: “Ag, wat se selibaat, watter gelofte. Is ek tog nou met vel en been op Lutherse grond; hy het altwee opgehef! En bowendien: vir ‘n engel, soos daardie meisie dit was, sou ek op die aarde met die hele selibaat ‘n offer gebring het en sou haar ontwil oombliklik ’n Lutheraan geword het! Maar waarheen het dan nou die pragtige meisies verdwyn, besonders die’ een? O, as ek haar tog net nog eenkeer kon sien!”
11] Sê die engel: “Vriend, jy sal haar sommer binnekort weer sien, saam met haar begeleiding; maar dan mag jy nie met haar praat en nog minder naby by haar kom nie! Maar wanneer sy agter jou wil aanloop, dan tel jou hand op en sê: “In die naam van die Here keer terug in die regte orde en moet nie vir my versoek nie, maar volg die stem van orde!”
12] Indien die trop nie daarop wil reageer nie, dan maak die boek oop en lees hul name, wat daarin staan, dan sal die trop hetsy skielik uitmekaar gaan of - indien hulle in jou ‘n stem gewaar, wat in jou vanuit die Here se krag afkomstig is - dan sal hulle vir jou volg. Jy sal hulle dan lei na daardie berg teen die middag, waar ek jou dan weer sal ontmoet!
13] Maar wat nou gebeur het, dit moet jy in jou hart aan die Here Jesus offer; want Hy het dit toegelaat, dat jy geval het en in die val jou hardnekkige selibaat van jou af weggegooi het!
14] Maar nou moet jy nie meer val nie; want ‘n herhaling van ‘n soortgelyke voorval sou vir jou sodanige skade berokken, waaraan jy in alle erns honderde van aardjaare sal kou, tot jy daarvan ontslae geraak het! Daarom wees nou versigtig en slim! Wanneer jy eers eenmaal suiwer is, dan sal jy tallose en nog oneindig groter skoonhede in die ryk van God teëkom; maar vir eers moet jy al jou aardse dwaashede vanuit die wortel aflê!
15] Nou wag hier en doen volgens hierdie my raad, dan sal jy in die vervolg ‘n aangename weg hê in die naam van die Here!”
16] Na hierdie woorde verdwyn die Engel Petrus skielik, sodat die Biskop nou geen geleentheid moet hê, om nog enige burleske aanmerkings te maak en in sommige dinge die Engel te weerspreek nie.


BISKOP MARTIN - (Ontwikkeling van ‘n siel in die hiernamaals)

geopenbaar aan jakob Lorber

Hoofstuk 8

01] Stok siel alleen weer op die grasperk, begin hy na ‘n rukkie met homself volgende monoloog te voer:

02] (Biskop Martin:) “Waarheen is hy dan nou, my gids? ‘n Netjiese gids die’; wanneer ‘n mens hom die nodigste het, verdwyn hy en is nou God weet waar! - Net wanneer ‘n mens ‘n fout gemaak het, dan is hy onmiddelik daar - ‘n eienskap, wat ek die allerminste kan verdra! Of hy bly by iemand om hom te lei op sulke onsekere paaie, soos hierdie geesteswêrelde daar is, of - hy moet wegbly vir ewig van my af, wanneer hy net dan na my toe kom, indien ek reeds gesondig het! O sulke narre is daar baie!
03] Wil hy my lei na saligheid, dan moet hy sigbaar by my bly, andersins is sy leiding van geen nut nie! Wag net, jy Lutherse wegkruiperpatroon van ‘n gids, - jy sal aan my harde bene te kou kry, dat vir jou al jou geduld sal vergaan! Wat kan dan nog meer met my gebeur? Luthers is ek alreeds, en volgens die leerstellings van Rome ryp vir die hel - dalk, sonder dat ek dit agterkom, alreeds daarin?!
04] Daarom laat die mooi lammers net nog eenmaal na my toe kom! Ek sal wel nie vir hulle ‘n wolf in skaapsklere wees nie, maar ‘n minnaar vol vuur, soos daar geen tweede ooit op aarde bestaan het nie! - My hand sal ek nooit teen haar oplig nie en haar naam ook nie uit hierdie boek lees nie, sodat sy nie meer van my af moet vlug nie. Ek wil myself darem ook nie te ver vergeet met die een of ander nie; maar van handoptel en namelees sal daar geen teken by my wees nie! En kom hy dan nou uit ‘n verborge hoekie te voorskyn, dan sal hy sien, hoe ‘n Biskop van die aarde kan praat, as hy dit wil! -
05] Waar bly dan nou die liewe engeltjies so lank? Tot nou toe is daar nog geen teken van hulle êrens te sien nie. Ek kom agter ook aan myself, dat ek nou baie moediger en hans geword het! Dus kom net, julle liewe engeltjies, julle sal by my reeds die regte man vind, geen lafaard meer nie, maar ‘n held, en watter held!
06] Maar nog steeds wag hulle êrens! Dit is tog nou reeds ‘n geruime tyd, sedert my gids my verlaat het, en nog steeds geen siel êrens te ontdek nie! Wat beteken dit dan? Het dalk my netjiese gids my dan skoon vir die gek gehou vir alle ewige tye? Die storie ruik net mooi sterk daarna! Dit wil vir my al weer voorkom, asof daar al weer ‘n hele paar dosyn jare verstryk het, sedert hy my verlaat het. Sal dit dan nou weer in die miljoene groei?
07] Hierdie geesteswêreldlewe is nou werklik ‘n mislike lewe! ‘n Mens staan daar werklik soos ‘n os voor die berg: Alles is so dynserig; geen ordentlike lig nie! Dit is ook nie alles, soos wat dit lyk nie! Die klip, waarop ek nou reeds vir ‘n geruime tyd op die skape en lammers wag, is sekerlik ook heel iets anders, as wat dit blyk te wees! Ook die liewe engeltjies: God weet, waar en wat hulle nou eintlik is? Waarskynlik - niks! Want sou hulle iets wees, dan moes hulle alreeds daar wees! Ja, Ja, dit is alles niks, wat daar is! My gids ook; andersins kon hy tog onmoontlik so vinnig in pure niks verdwyn nie.
08] Die meeste voel hierdie lewe vir my soos ‘n droomlewe. Daar het ek ook dikwels van die mees dwase dinge gedroom, van allerlei veranderinge. Wat was hulle dan? Niks as beelde, gevorm deur die fantasieryke verbeeldingskrag van die siel! Net so is ook hierdie lewe niks as ‘n ydel, leë, hoogswaarskynlike ewige droom! Bloot hierdie my oorwegings blyk werklik van gehalte te wees; maar alles andere is niks as ‘n ellendige stukkie verbeelding van die siel! Nou wag ek reeds bykans 200 jaar hier op die lammers en skape, maar daar is geen spoor van hulle te sien nie!
09] Waaroor ek nog steeds wonder: dat in hierdie fantasiewêreld hierdie boek hierdie my boereklere, ook hierdie omgewing saam met die Lutherse huis en tempel heel onveranderd sy vorm by behou? Hierdie storie is tog ietwat snaaks. Iets blyk tog aan die saak te wees, maar hoeveel, dit is ‘n ander vraag!
10] Of sou dit dan nie reg wees, dat ek nie van die begin af gewillig was, om sy leerstellings noukeurig te volg nie?! Sou hy dan ‘n goeie gids wees, moes hy my dan nie dadelik berispe nie, in plek daarvan om hom onmiddelik uit die voete te maak! Het hy dan nie gesê, dat ek, sou ek nog eenmaal val, groot skade oor my sal kom nie, waaraan ek in alle erns menigte honderde aardjare sal moet lek? Het ek alreeds geval? Met die gedagtes en die blote wil natuurlik wel, maar in die daad onmoontlik, omdat die sekere engeltjies glad nie te voorskyn gekom het nie!
11] Maar dalk het hulle daarom nie gekom nie, omdat ek sulke gedagtes en sodanige wil gehad het? Dit kon baie maklik gebeur! Kon ek tog net van sulke gedagtes ontslae raak! Hoekom moes hulle dan ook so verskriklik mooi en prikkelend wees? Daar het ek vir my nou ordentlik in die moeilikheid laat beland! Nou moet ek wag, tot my dwase gedagtes tot bedaring kom - en die wil saam met hulle!
12] Maar dit kan ek nou reeds insien: Wanneer dit ‘n toets vir my hoofswakheid is, dan sal daar by my ‘n besondere groot probleem wees; want ten opsigte van hierdie punt was ek op aarde in die geheim ‘n dier in optima forma! Ja, wanneer ek daar so ‘n werklik mooi meisie gesien het, daar het ek - - - taceas {swyg daar liewer}! Hoeveel het ek - - taceas de rebus praeteritis! {swyg liewer oor die dinge van die verlede} mooi jong nonne! O, dit was salige tye, - maar nou taceas! {swyg!}
13] Hoe streng was ek in die biegstoel teen die kinders wat kom bieg het, en hoe laks teen myself! Jammer, jammer, dit was nie reg nie; maar wie behalwe God het die krag, die mag van die natuur te weerstaan?
14] Indien dit net nie was vir die aartsdom selibaat nie en ‘n biskop die man van ‘n ordentlike vrou kon word, soos dit volgens my kennis Paulus ook uitdruklik gesê het, dan sou ‘n mens met die vlees tog seker ‘n makliker stryd gehad het. Maar nou lewe ‘n biskop steeds soos Adam voordat die boom van kennis met die verleidelike Eva in ‘n sekere paradys geseën was, en kan nie genoeg kry van die appel wat hom aangebied is nie!
15] O groot deurmekaar! Dit is nou eenmaal so, wie kan dit verander? Die Skepper alleen, indien Hy dit wil; maar sonder Hom bly die mens - in besonder uit my geledere! - nou en vir ewig ‘n dier, en daarby ook nog ‘n afskuwelike dier!
16] Here, wees my genadig en barmhartig! Ek sien alreeds, indien Jou hand nie aan my sal raak nie, sal dit maar moeilik verder gaan; want ek is ‘n dier - en my gids ‘n eiesinnige dwaas, dalk self Luther se gees. Dan sal dit nie werk nie. Geduld, moet my nie verlaat nie; reeds weer duisend jaar op een plek!”
17] Nou word hy uiteindelik stil en wag vir die skape en lammers.