|
INLEIDING
"Die dag van die Here sal kom soos 'n dief in die nag"
Op drie verskillende plekke in die Nuwe Testament (Thess. 5,2; Pet.2,3,10 en Openb.3,3) staan geskryf dat die wederkoms van Jesus Christus sal plaasvind soos ‘n dief in die nag. Hierdie diep profetiese stelling, is deur feitlik alle Christelike instellings op aarde oor die hoof gesien, en het alreeds 150 jaar gelede in vervulling gegaan. In alle stilte, ongemerk voor die wêreld se oë, verwerp deur die amptelike kerke, het die Here deur die profeet Jakob Lorber ‘n Nuwe Openbaring laat neerskryf, wat die begin van die eindtyd ingelei het. Hierdie Nuwe Openbaring van suiwer goddelike liefde, is in presiese ooreenstemming met die gees van liefde uit die Bybel. Maar net soos die gees van waarheid uit die Ou Testament deur die Here destyds aan die Jode geopenbaar is, op ‘n wyse dat die amptelike priesterskap van daardie tyd dit nie wou verstaan nie en dit derhalwe misken het, net so word in hierdie Nuwe Openbaring die gees van waarheid uit die Ou en Nuwe Testament met betrekking tot die mees verborge vrae en geheime van die skepping op sodanig wonderbaarlike wyse ontbloot, dat dit weereens nie deur die amptelike Christelike teologie (Katolieke sowel as Protestante) verstaan word nie en derhalwe weereens verwerp word.
Net na 6:00 die oggend op 15 Maart 1840 is die Nuwe Openbaring aan Jakob Lorber met die volgende woorde ingelei:
01] “Wie met My wil praat, die’ kom na My, en Ek sal vir hom die antwoord in sy hart lê; maar net die’ wat rein is, wie se hart vol nederigheid is, sal die toon van My stem verneem.
02] En wie vir My voorkeur gee voor al die wêreld, vir My lief het soos ‘n teer bruid haar bruidegom, met hom wil Ek arm in arm wandel. Hy sal My altyd sien soos ‘n broer die ander broer, en soos Ek hom aanskou het reeds van ewigheid, nog voor hy was.”
Hierdie is nie ‘n nuwe kerkbeweging of geloofsorganisasie of sekte of kongregasie of wat jy dit ook al wil noem nie. Hierdie het ook niks te doen met enige van die sogenaamde “New Age” bewegings nie. Daar bestaan nie ‘n sentrale organisasie wat toesig hou oor die verspreiding van die Lorbergeskrifte, of elders op ‘n gereelde basis bymekaar kom, of op die een of ander wyse ledegeld ontvang nie. Daar bestaan nie eers ‘n kopiereg op die oorspronklike manuskripte nie. Maar ten spyte daarvan word die Lorbergeskrifte dwars oor die wêreld gelees deur nederige en dankbare mense van verskillende gelowe en alle vlakke van die samelewing. Oor die begrip ‘kerk’ sê die Nuwe Openbaring die volgende:
09] "Sê dit vir die kinders, en sê dit vir almal, hulle kan behoort aan enige geloof wat hulle wil - of Rooms, of Protestante, of Jode, of Turke, of Brahmi, of donker heidene -, kortom vir almal sal dit gesê word: Op aarde is daar net een ware kerk, en dit is die liefde vir My in My Seun, maar wat daar is die Heilige Gees in julle en word aan julle geopenbaar deur My lewendige woord, en hierdie woord is die Seun, en die Seun is My liefde en is in My en Ek deurdring dit volledig, en Ons is een, en sodoende is Ek in julle, en jul siele, waarvan die hart My woonplek is, wat die alleen ware kerk op aarde is. In haar is die ewige lewe, en sy is die alleen saligmaker."
Hierdeur word dit duidelik gestel dat die ware, opregte, onselfsugtige liefdesverband tussen God en die mens in die hart van elke mens, die enigste ware kerk op aarde is. Waaruit daardie liefde bestaan, hoe dit gesoek en lewendig gemaak kan word, word in die 25 boeke waaruit die Nuwe Openbaring bestaan op ‘n hemelse wyse daargestel. Vir eeue heen beywer Christene hulle om lede te werf en te oortuig van hoe wonderlik hulle eie kerk/gemeente/kongregasie/sekte/geloofsorganisasie ens. is. Maar vir die eerste keer verneem ons dat die Here nie in ‘n uiterlike kerk te vinde is nie maar net in die innerlike kerk wat in die hart van elke individuele mens op aarde teenwoordig is. Daarom maak dit ook nie saak aan watter uiterlike kerk jy op aarde behoort nie, maar soek in alle nederigheid die liefde vir God in jou eie hart en jy het die enigste ware kerk op aarde gevind.
En as jy mooi daaroor dink, kan dit mos nie anders wees nie, aangesien die drie-enige God in Sy wese uit liefde, wysheid en krag of dan die wil bestaan, maar waarvan die liefde die mees fundamenteel belangrikste deel is. Nou is die mens geskape volgens die ewebeeld van God, wat beteken dat elke mens se mees innerlike wese ook liefde moet wees, wat ons dan noem die gees. Die gees is ‘n spieëlbeeld van God in elke mens. Deur die gees vloei die liefde van God in elke mens en vorm die mees fundamentele lewensessensie in ons, waarsonder die mens nie vir ‘n enkele oomblik sou kon bestaan nie. Maar die mens besit nie net ‘n gees nie, maar besit ook ‘n lewendige siel en ook ‘n liggaam. Dit is die siel in die mens wat van God deur middel van die gees, met ‘n vrye wil toegerus is. Die siel op sy beurt ontvang die lewensessensie, naamlik die liefde, van die gees. Nou kom die belangrike deel, en dit is omdat die siel onder die invloed en ondersteuning van haar gees met ‘n vrye wil toegerus is, sy met die’ liefde wat sy van haar gees ontvang, kan maak wat sy wil.
Kom ons noem eers wat die siel veronderstel is om te doen met die liefde wat sy van haar gees ontvang. Sy is veronderstel om die’ liefde in nederigheid en dankbaarheid weer terug te gee aan haar Skepper en om dit verder uit te deel aan haar medemens. Daarom is die gebod van “Kry jou naaste lief soos jou self en die Here bo alles” so belangrik. Maar dit is nie wat die mens doen nie. Wat hy doen, is om die suiwer liefde wat hy uit die gees ontvang, om te keer in eieliefde en daarmee al sy eie behoeftes, belange, begeerlikhede, drange, luste, strewes, ens. te bevredig. Dit veroorsaak dan dat die mens hom al verder weg van sy gees en natuurlik ook van God af verwyder. Dit is ook die rede hoekom alle rykdom en vermaaklikhede op aarde die mens nie kan gelukkig maak nie maar net ‘n steeds groeiende leegte in hom agterlaat, as gevolg van die toenemende geestelike afstand tussen die siel en haar gees. Die mens beland dan in ‘n toestand waar hy geestelik gesproke dood is en dra dus sy eie hel in homself. ‘n Verdere gevolg is dat die siel in sodanige toestand al hoe meer verstandelik materieel begin om te redeneer en dus alle werklik geestelike waarhede verwerp en as onsinnig verklaar. Die siel raak dan geestelik blind. As ‘n mens na die toestand kyk waarin die wêreld hom tans bevind, is dit nie nodig om enigsins verder hierop uit te brei nie. Hoe kan ons dit verander? Deurdat elke mens ernstig en opreg in sy eie hart sy gees en die Here begin soek en om daadwerklik daarna strewe om die eieliefde in onsself af te skaal. In die praktyk beteken dit dat jy jou godsdiens met dieselfde entoesiasme, stiptelikheid, oorgawe en determinasie moet beoefen soos wat jy jou werk, besigheid, stokperdjies, sport en ander vermaaklikhede en belange benader.
Nou wat sou dan die funksie van die liggaam wees in hierdie hele opset? Die liggaam is niks anders as ‘n uiters wys ingerigte suiweringsmasjien vir die siel. Die liggaam word vir die siel toegedeel sodat sy dit baie makliker het, om haarself te oorwin, die materie net as gereedskap te gebruik om goed te doen aan haar naaste en dus baie makliker die gees van binne en die geopenbaarde woord van buite aan te neem, om dan sodoende haar eie behoeftes, belange, begeerlikhede, drange, luste, strewes, ens. te verminder en dus in staat is om die liefde en wil van die Here aan te neem. Die siel uit haar eie kan dit nie doen nie, maar sy moet die wil toon dat sy wel wil verander, en die Here sal sorg vir die res. Wanneer die liggaam eendag te sterwe sal kom, en die siel dit net gebruik het ter bevrediging van sy aardse strewes en geen poging aangewend het om geestelik nader na die Here te beweeg nie, dan sal die siel in die hiernamaals dit baie, baie moeiliker vind om van haar gevestigde materiële persepsies en wanvoorstellings ontslae te raak en verkeer dus vir ‘n oneindige lank tydperk in haar eie hel, waaruit sy ten spyte van baie ongerief, smart en pyn nie bevry wil word nie, terwyl dit hier op aarde relatief maklik gedoen kon word.
Die gees is dus die volmaakte deel in die mens en is die’ deel wat die ewebeeld van God vorm. Die siel moet daarna strewe om deur die liefde vir God en die medemens en die afskaling van sy aardse strewes weer nader na sy gees te beweeg en uiteindelik een te word met sy gees, sodat die mens kan “volmaak word soos die Vader in die hemel”. 'n Mens moet dus nie net aan God glo nie, maar jy moet vir God in jou hart lief word! Wanneer die siel deur totale selfverloëning die’ lewensdoel bereik het, naamlik om een te word met haar gees in haar, dan is die mens ten volle geregtig om saam met Paulus te sê: “Nou lewe nie meer ek maar Christus in my.” En dit is dan in werklikheid die wedergeboorte in die gees waaroor die Here met Nikodemus gepraat het.
Maak hierdie sonhelder redenasie vir jou sin? Jou gees in jou hart sal dit vir jou bevestig. En as jy moeite wil doen sal jy ook elke deel van bogenoemde uiteensetting met behulp van die Bybel kan bevestig. Op hierdie webblad is verskeie boeke en talle geselekteerde hoofstukke wat uit verskillende werke van die Nuwe Openbaring uit die oorspronklike Duits na Afrikaans vertaal is, gepubliseer. Die formaat is gewone teks en kan maklik na enige drukker of woordverwerker afgelaai word.
AANSLUITING MET DIE BYBEL Wanneer dit kom by die tema van moderne profete, word dikwels die argument opgehaal dat daar nie eintlik so iets meer bestaan nie, en dat die Bybel die laaste goddelik geopenbaarde skrif is wat aan die mensdom gegee is. Geen skrif in die Nuwe Testament onderskryf hierdie stelling nie! In teendeel, daar word deurgaans gewaarsku teen valse profete en herhaaldelik word gepraat van profesieë asof dit deel is van ‘n normale godsdiens, maar nêrens word pertinent gesê dat daar geen nuwe profete sal opstaan nie. Met betrekking tot die valse profete gee ‘n ervare vader vir sy seun wat ‘n bruid wil gaan soek, goeie raad wanneer hy vir hom sê: “My seun pasop vir die straatvroue, want hulle wil jou net van jou erfdeel beroof.” Deur sy seun te waarsku teen die straatvroue, sê die vader nie dat daar geen goedgesinde meisies bestaan nie.
In Johannes 16, 12 en 13 sê Jesus: “Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê maar julle kan dit nou nie dra nie. ...Hy sal nie uit homself spreek nie maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.“ En verder in vers 25 sê Hy: “Hierdie dinge het Ek deur gelykenisse tot julle gespreek, maar daar kom ‘n tyd wanneer Ek nie meer deur gelykenisse tot julle sal spreek nie, ...”. In Johannes 20, 30: “Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie;...” Dan verder in Johannes 21, 25: “En daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie. Amen.” Waarvoor al hierdie aanduidings? Ons weet tog hoe moeilik dit was om iets neer te skryf in daardie tyd. Johannes het dit dus nie net geskryf om sy papier vol te maak nie. Buitendien het Johannes alles wat hy neergeskryf het, geskryf onder goddelike inspirasie. Wat is dan al hierdie dinge wat Jesus gedoen en gesê het? Moet dit nou tot in ewigheid vir die mensdom verswyg word? Is dit dan nie moontlik dat die mense van daardie tyd nog nie ryp was om al hierdie dinge te verstaan nie, en dat dit juis belangrik sou word om dit eers op ‘n latere stadium, wanneer die mensdom meer gereed daarvoor geword het, te gee? Al die diep wetenskaplike feite wat deur Lorber geopenbaar is (sien hieronder), sou weinig vir die mense van destyds beteken het, wat feitlik geen wetenskaplike agtergrond gehad het nie.
Bogenoemde skrifgedeeltes sou eintlik voldoende aanduiding wees dat daar in die toekoms beslis nog verdere uitbreidings op die Bybel verwag kan word. Daarby gee Paulus die opdrag in 1 Thessaloniers 5 vers 19-21: “Blus die Gees nie uit nie. Verag die profesieë nie. Beproef alle dinge; behou die goeie.” Ook sê Jesus in Math. 10,41: “Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is, sal die loon van ‘n profeet ontvang;...”. Hoekom sou Jesus so iets sê indien daar geen nuwe profete meer sal kom nie. Vers 40 dui ook aan dat Jesus ‘n onderskeid tref tussen apostels, profete en leraars. Hierdie onderskeid word ook duidelik in 1 Kor. 12,27-31 onder andere “...in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars...” Dieselfde word ook gesê in Eph. 4,11 “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars,”. Deur hierdie tekste word dit duidelik gestel dat al ons moderne, pastore, priesters, rabbies, skrifgeleerdes, teologiedosente, -doktore, -professore ens. net leraars maar beslis geen apostels of profete is nie. Tot hierdie lys kan nog etlike ander skrifgedeeltes gevoeg word, waar spesifiek die werking van profete aangeraak word.
Uit al bogenoemde aanhalings van die Skrif word dit duidelik gestel dat profete vandag nog net soos van ouds steeds ‘n rol sal speel met betrekking tot die geestelike verlossing van die mens. Maar waar is hulle dan? Ek weet nie van een enkele profeet wat gedurende die afgelope twee duisend jaar na afsluiting van die Bybel deur alle Christelike gelowe aanvaar is as ‘n godgesante profeet nie. Of het ons tegnologies gevorderde samelewing met rekenaars, vinnige voertuie, reusagtige vliegtuie en skepe, genetiese ingenieurswese, bankwese, fabrieke, satelietkommunikasie ens. te modern geword vir hierdie soort sprokiesverhale uit die ou dae? My vriend, ek het nuus vir jou!
‘n Verdere argument wat gereeld opgehaal word met betrekking tot die onderwerp van profete, is dat gesê word: Die Bybel is vir my voldoende, ek het nie nog ander geskrifte nodig vir my geloof nie. Wel, hierdie kop-in-die-sand argument het ook sy tekortkominge. Eerstens, wanneer jy ernstig is oor jou godsdiens, lees jy nie net die Bybel nie. Daar is biblioteke vol geskryf van teologiese boeke en die christelike boekwinkels staan vol daarvan. En al hierdie literatuur word gereeld en met groot erns deur teoloë en ook die gewone man gelees. Tweedens moet daarop gewys word, dat die profeet Moses by voorbeeld, 1,000 jaar voor die profeet Ezechiel geleef het. Sou dit reg wees van die Joodse volk om gedurende die tyd van Ezechiel te sê: “Ons het die wette van Moses ontvang. Ons het nie nog ‘n ander profeet nodig nie.”? Sekerlik nie. Dieselfde geld ook vir Johannes die Doper. Die priesters, fariseërs en skrifgeleerdes het ook nie geglo dat hy die woord van God verkondig nie, wat onder andere daartoe gely het dat Jesus gekruisig is, en die Jode vandag nog nie glo dat Jesus die Messias was nie. Word dit nie tyd dat ons uit die geskiedenis leer nie? Het Jesus dan nie self vir die fariseërs in Lukas 11, 47-50 gesê dat hulle voorvaarders die profete eers vervolg en vermoor het en hulle nou hul grafstene wit verf nie?
DIE LORBERGESKRIFTE EN DIE WETENSKAP Dit is nie eintlik die wetenskaplike voorspellings wat van belang is in die Lorbergeskrifte nie maar eintlik die geestelike boodskap wat vir ons gebring word. So is die samestelling van die mens uit liggaam, siel en gees, die skepping van die mens as gees, die geestelike skepping, die val en die gevolglike materiële skepping, die verlossing van die mens uit die gevangenskap van die materie, die doel van die mens op aarde om die wedergeboorte te bereik, die lewe van die mens nadat hy van sy liggaam ontslae geraak het, en hoe alles met mekaar deur die liefde van die Skepper verweef is, en vele ander geestelike aspekte wat eintlik die belangrike kern van hierdie nuwe openbaring vorm. Maar ook vir die wetenskaplikes onder ons, waar daar so ‘n groot kloof ontwikkel het tussen die geestelike en fisiese wetenskap, was dit nodig om die wetenskap in die ware perspektief te plaas.
In die Lorbergeskrifte is daar onder andere so baie merkwaardige wetenskaplike feite genoem, wat eers jare, ja soms 100 jaar en meer later na Lorber se dood, deur die moderne wetenskap ontdek is. Baie van die feite wat genoem is, sal die mens nog eeue besig hou om die geldigheid daarvan te verstaan. Meer besonderhede kan hieroor in die boek van Kurt Eggenstein, ‘The Unknown Prophet Jakob Lorber’ (1973), gelees word. Die grootste verskil tussen die Lorbergeskrifte en die moderne wetenskap bestaan daarin dat in Lorber alle wetenskaplike feite van ‘n materiële maar ook van ‘n geestelike oogpunt af verduidelik word. Waar die moderne wetenskap natuurlik niks weet van die geestelike bestaan van die skepping nie (of dit dan ontken) en daarom net op die materiële skepping fokus, wat tot allerlei wanvoorstellings lei. Vervolgens nou enkele voorbeelde waar die nuwe openbaring die wetenskap ver vooruitgeloop het.
So word in Lorber in groot detail die struktuur van die heelal uiteengesit. Onder andere word gesê dat die heelal uit miljoene der miljoene melkwegstelsels (eng. galaxies) bestaan waarvan ons eie melkwegstelsel maar net een daarvan is. Om so ‘n stelling te maak gedurende die 1850's was ongehoord aangesien alle sterrekundiges op daardie stadium dit eens was dat die heelal net uit een melkwegstelsel bestaan. Edwin Hubble was die eerste sterrekundige wat in 1925 met behulp van die nuwe 2.57m teleskoop op Mount Wilson, onteenseglik bewys het, dat die newels in M31, NGC6822 en M33 nie sonne nie maar melkwegstelsels is, en daardeur ‘n algehele omwenteling in die sterrekunde teweeg gebring, ten opsigte van grootte en afstand in die ruimte. Vandag word die aantal melkwegstelsels op 10 miljard geskat.
In die Lorbergeskrifte word verduidelik dat elke melkwegstelsel (eng. galaxy) sy eie sentrale son het. Die sentrale son se volume is altyd ‘n honderd tot selfs ‘n duisend keer groter as die volume van al die miljoene planeetsonne saam wat daarom draai. Ooreenkomstig neem ook die ligintensiteit toe. Om so ‘n stelling te maak was ondenkbaar vir die 1800s en ook vroeg 1900s aangesien Einstein self gesê het dat ‘n son 100 maal die grootte van ons eie son, eenvoudig nie kan bestaan nie. Eers ‘n honderd jaar later gedurende die vroeg sestiger jare, met die behulp van moderne radioteleskope, is liggame ontdek wat so groot was dat sterrekundiges onseker was of dit sterre of melkwegstelsels is, en daarom die naam quasars gegee het (quasi stars = quasar). Met die 5m optiese teleskoop op Mount Palomar is van hierdie radiobronne as reusagtige sterre bevestig. Hulle ligintensiteit is gelyk aan meer as 100 miljaard sonne saam van ons eie melkwegstelsel.
Daar word ook in Lorber aangevoer dat ons aarde nie van ons son afkomstig is nie maar van ‘n baie groter ander son. Moderne wetenskaplike bevindinge het tot dieselfde slotsom gekom, deur te sê dat ons eie son se temperatuur nie voldoende was om die 92 elemente wat vrylik op ons aarde voorkom, te produseer nie, en die aarde dus nie van ons son afkomstig kan wees nie.
Oor die afgelope 150 jaar was dit vir sterrekundiges nodig om stapsgewys reuse aanpassings te maak ten opsigte van die begrippe vir afstand en grootte in die astronomie. En elke keer het hulle nader beweeg na die stellings wat in die Lorbergeskrifte gemaak is.
Op dieselfde wyse word in die nuwe openbaring tot in groot detail die atoomstruktuur beskryf wat op ‘n ongelooflike wyse met die moderne sienswyse van kernfisika ooreenstem. Dit is net dat in Lorber gesê word, dat elke kleinste subatomiese deeltjie ‘n geestelike substansie bevat wat aan die deeltjie sy bestaan gee en direk deur die Here se wil onderhou word. Op die’ wyse word die vorming van materie verduidelik. Sou jy die gees uit die materie onttrek, sou die materie onmiddelik in niks vergaan nie. Die moderne wetenskap het deurgedring tot die bestaan van die kleinste subatomiese deeltjies, maar ontbreek nog die laaste tree om die gees agter die materie raak te sien. Dit sal egter nooit gedoen kan word met nog so gesofistikeerde navorsingstegnieke nie maar net met ‘n liefdevolle nederige hart wat die Here erken as die werklike Skepper agter alles.
In die nuwe openbaring word ook die baie omstrede dubbele karakter van lig uit een gesit en 35 jaar voor Maxwell was dit al gestel dat lig uit elektromagnetiese golwe bestaan en teen die spoed van elektromagnetiese golwe beweeg.
In die Groot Johannes Evangelie, band 8, hoofstuk 72 word ook beskryf dat die skeppingsgeskiedenis in Genesis nie letterlik opgeneem moet word nie en die vorming van die aarde as dit ware oor baie miljoene jare plaasgevind het. Daarin word ook die bestaan van primitiewe mense beskryf, wat voor Adam vir ‘n miljoen jaar op die aarde gewoon het, maar nie as sulks die voorlopers van die moderne mens was nie. Eers ongeveer 6,000 jaar gelede is in die vorm van Adam ‘n mens geskep, wat toegerus was met ‘n goddelike gees en ‘n vrye wil, wat in staat was om sy skepper te soek en te erken. Daardeur het die moderne mens sy bestaan verkry. Weereens moet in perspektief geplaas word, om melding te maak van die bestaan van primitiewe mense gedurende daardie tyd (1850s) was, om die minste te sê, ondenkbaar. Die eerste Neanderthalskedel is in 1856 naby Düsseldorf in Duitsland gevind, en die ongewone voorkoms daarvan is deur die gesiene Prof. Virchow in 1872 verklaar as vervormings deur artritis. Eers nadat in 1886 en later soortgelyke skedels in België, Frankryk en Spanje gevind is, is die afleiding gemaak dat primitiewe mense 40-60,000 jaar gelede in Europa gelewe het.
SLOTOPMERKING Die groot vraag is nou natuurlik, indien dit alles waar is, hoekom weet dan nie almal van die bestaan van hierdie boeke nie - hulle bestaan dan immers vir 'n tydperk van 150 jaar?! Die antwoord hierop is drieledig:
In die eerste plek staan die amptelike kerke enige nuwe openbaring of profesieë tee en derhalwe sal die Lorbergeskrifte nooit van daardie oord ondersteuning ontvang nie. As dit nie so was nie moes daar ten minste een of twee algemeen aanvaarbare profesieë in die afgelope 2,000 jaar die stempel van goedkeuring van die amptelike kerke bekom het.
In die tweede plek, soos reeds gesê, word alle wetenskaplike feite van die materiële en geestelike oogpunt af verduidelik. Dit word ook duidelik gestel dat die gees die oorsprong is van die skepping, en die materie wat op sigself dood is, net bestaan ter wille en omdat die gees dit onderhou. Hierdie feit maak dit onmoontlik vir die formele wetenskap om die nuwe openbaring te aanvaar, aangesien die wetenskap glo dat die materie alles is en die gees, sou dit ooit bestaan, net ‘n baie onbelangrike sekondêre verskynsel is, wat net op ‘n vae wyse in die sielkunde tuis hoort, miskien in die teologie, en waarna soms as bonatuurlik verwys word.
Derdens is dit ook so, dat solank die mens sy hele lewe lank strewe om materieel bo uit te kom, soos ons dit net te graag sê, en dit van kleins af vir ons ingehamer word, en al ons energie daarop spandeer om materiële voordele vir onsself en gesinne bymekaar te maak, sonder om enigsins in geestelike dinge van ‘n hoër aard belang te stel nie, en elke bietjie vrye tyd met aardse vermaaklikheid bestee, kan en sal die inhoud van sulke goddelike boodskappe nooit oor die algemeen aanvaar word nie.
Maar luister wat die Here self hieroor te sê het: “Indien jou (Lorber) woord die goedkeuring van die wêreld gehad het, sou dit nie van My afkomstig wees nie. Die wêreld se afkeur is altyd die beste getuie vir dit wat afkomstig is van My.” (Himmelsgaben, 2, bl. 98). “Moet dus nie te ywerig wees in die soeke na mense wat dink soos jy, of om mense te oortuig nie. Dit is nie so maklik om ander mense op die weg van die suiwer boodskap van liefde te plaas nie.” “Wanneer die tyd ryp is, sal dit vir almal in hul harte gegee word wat daarvoor vra.” (Himmelsgaben, 2, bl. 276)
Hierdie webblad is saamgestel en word onderhou deur: Albert Karl Hoffmann (eerste datum van plasing op die web: September 2001)
|